Valse vriende

In tale soos Afrikaans en Duits is 'n "firma" 'n maatskappy, maar in Spaans is dit 'n handtekening.

Valse vriende is die benaming wat gebruik word om te verwys na woorde van twee tale waarvan die vorm byna of geheel en al dieselfde is, maar waarvan die betekenis grootliks of soms net subtiel verskil. Daar kan dus maklik 'n verwarring ontstaan wanneer 'n taalgebruiker 'n anderstalige woord van dieselfde vorm teëkom en dus dieselfde betekenis verwag, terwyl die woord in der waarheid 'n ander betekenis het.

Hierdie verwarring kan dan manifesteer in weersprekings, vertaalfoute of in 'n verkeerde begrip. Dit kan aanleiding gee tot verwarring of verleentheid weens die onbedoelde betekenis, en kan 'n onverwagte uitwerking ten gevolg hê.[1] Dit kan ook gebruik word om 'n humoristiese effek te verkry.

Die verskynsel kan nie net tussen twee verskillende tale voorkom nie, maar ook tussen variante van dieselfde taal. Die term valse vriende is vir die eerste keer in 1928 in Frans gebruik (faux amis), in die boek Les faux amis ou les trahisons du vocabulaire anglais deur Maxime Koessler en Jules Derocquigny.[2]

  1. Carstens, W.A.M. en Raidt, E.H. Die storie van Afrikaans, Deel 1, Hoofstuk 10, Oor ‘valse vriende’
  2. (en) Pedro José Chamizo-Dominguez in Keith Brown (2009), Concise Encyclopedia of Semantics, p.308.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy